Education eSocial News

Hoe kies ek die regte beroep?

Met dank: Essie Bester – Solidariteit Loopbaan

Gepubliseer: 4 November 2019

Artikel: https://jouloopbaan.solidariteit.co.za/hoe-kies-ek-die-regte-beroep/

Om ʼn loopbaanrigting te kies, is seker een van die moeilikste besluite wat ʼn mens (en dikwels is jy dan nog kind) moet neem. Baie mense verander wel later in hul lewe van loopbaan, maar daardie eerste keuse het altyd ʼn impak.

Daarom is dit belangrik dat jou verwagtinge rondom jou persoonlikheid, vermoëns, intelligensie en belangstelling realisties moet wees en dat jy jou kan vereenselwig met die beroep wat jy kies. Dit bepaal die rigting waarin jy jou vaardighede ontwikkel, die tipe instansies en mense waarby jy in jou lewe betrokke gaan wees, asook die hoeveelheid geld wat jy gaan verdien.

Foute wat vermy moet word

Wanneer dit by loopbaankeuses kom, word sommige foute meer gereeld as ander gemaak. Jane Downes, ʼn bekende loopbaanafrigter en skrywer van The Career Book, sê die volgende:

  • Loopbaanbeplanning word nie altyd ernstig genoeg opgeneem nie. Jongmense laat na om daaroor te dink tot op die laaste nippertjie en neem dan oorhaastige besluite.
  • Vaardighede, belangstellings, waardes en persoonlikheid word nie altyd in ag geneem nie. Besluitnemers neem nie tyd om uit te vind wat hulle waardes is nie, wat hulle dryf, of hulle van nature introvert of ekstrovert is, en hoe hulle hul persoonlikheid in hul werkplek sal kan aanwend nie.
  • Jongmense besef nie altyd dat loopbaanbeplanning ʼn projek op sigself is nie en doen daarom nie genoeg navorsing nie.
  • Jongmense luister na hul ouers wat dit goed bedoel maar nie altyd besef dat die wêreld van werk fundamenteel verander het nie. Hulle weet nie altyd dat daar elke week twee nuwe rolle in die werkwêreld geskep word nie, en hulle verstaan nie altyd nuwe gebiede soos digitale bemarking of dataontleding nie.
  • Jongmense neem dít wat die beroepsvoorligter sê nie ernstig genoeg op nie.
  • Jongmense gebruik nie die hulpbronne tot hulle beskikking om meer te wete te kom nie. Die meeste universiteite bied byvoorbeeld omvattende en professionele loopbaanvoorligting, psigometriese toetsing en loopbaanpad-voorligtingsdienste aan.
  • Laastens vra Downes jongmense om te besef dat mens nooit ʼn fout kan maak deur ʼn denkpatroon van nuuskierigheid te kweek en vrae te vra nie.

Stappe om te volg tydens die bepaling van jou loopbaankeuse:

  • Bespreek jou opsies met iemand vir wie jy respek het en ontwikkel só selfkennis.
  • Skryf jou opsies neer en omskryf dit kortliks. Het jy ’n aanvoeling vir jou keuses? Met die Solidariteit Loopbaankompas kan jy sekerheid kry. Doen ʼn gratis aanlyn belangstellingsbepaler om uit te vind wat die beste by jou pas. Besoek www.jeug.co.za
  • Doen by kolleges en universiteite se inligtingskantore navraag oor wat die verskillende loopbane behels en watter verskillende werkgeleenthede in elke loopbaan moontlik is.
  • Vra uit oor finansiële vergoeding. Maak seker watter skoolvakke en verdere opleiding nodig is. Gesels met mense wat reeds jou droomwerk doen. Vra jouself die volgende af:

Is daar ʼn aanvraag vir persone wat gekwalifiseer is in die beroep waarin ek belangstel?

Sal ek maklik werk kry?

Sal ek vir my en my gesin kan sorg indien ek hierdie beroep kies?

Wat kan moontlik gebeur as die ekonomie só versleg dat mense nie meer my diens of produk kan bekostig nie?

Is daar ʼn wye verskeidenheid van werkgeleenthede in hierdie veld?

  • Oorweeg elke opsie en weeg moontlikhede teen mekaar op.
  • Kies die rigting wat jou die beste pas terwyl jy in gedagte hou dat jy nou die grondslag lê vir ʼn belegging waarvan jy lewenslank die vrugte gaan pluk.
  • Skep ʼn stewige riglyn waarvolgens jy jou droom kan bereik deur ʼn plan van aksie te ontwerp.

Jy het bepaal watter loopbaanrigting jy wil volg. Vra jouself nou die volgende:

Watter inligting of hulp het ek nodig om my plan van aksie deur te voer?

Watter probleme moet ek deurwerk en hoe gaan ek dit doen?

Watter stappe is nodig om die plan suksesvol uit te voer?

Hoe begin en eindig ek elke beplande stap?

Hierdie sif van idees is baie belangrik. Dis immers nie maklik om jou lewensdroom neer te skryf nie. Skryf die moontlikhede oor en oor neer totdat jy die kern raakvat.

Beroepskeuse is nie altyd die probleem nie

Chalene Pretorius, wat vir tien jaar direkteur by die Phoenix-jeugontwikkelingsorganisasie was, sê dis nie altyd noodwendig die beroepskeuse wat die probleem is nie. In baie gevalle is dit hoe ouers en onderwysers reageer op ʼn kind se keuses. Kinders het meer ondersteuning nodig wanneer hulle ʼn beroep kies wat anders is as wat die ouer sou wou kies.

Pretorius maan ouers en leerders om hulle nie vas te staar teen die tradisionele universiteitsopleiding wanneer dit kom by beroepskeuses en studies nie. “Kyk ʼn bietjie wat nou in die werkswêreld aangaan. Daar is wel beroepe wat definitief universiteitsgrade benodig, maar daar is byvoorbeeld ook groot geleenthede vir entrepreneurs in Suid-Afrika. Die opsies is legio.”

Bronne https://www.irishtimes.com/news/education/the-seven-common-career-mistakes-students-make-1.3997388