Education eSocial Networking News

Klop só eksamenstres…

Met dank: Nico Strydom – Solidariteit Wereld

Gepubliseer: 4 November 2019

Artikel: https://jougesin.solidariteit.co.za/klop-so-eksamenstres/

Eksamentyd kan ʼn baie stresvolle tydperk wees, nie net vir leerlinge nie maar ook vir hulle ouers.

“Stres in die eksamentyd is gewoonlik nie die gevolg van die werk wat geleer moet word en die fisiese aflê van die eksamen nie, maar ook die onsekerhede oor die uitkoms daarvan en die moontlike gevolge,” sê Megan Hosking, ʼn maatskaplike werker en psigiatriese klinikus by Akeso psigiatriese hospitale.

Hosking wys daarop dat daar elke jaar tragiese berigte is oor leerlinge wat hul eie lewens neem in of na die eksamentyd. “Dit is moontlik vrees vir mislukking of ongewenste uitslae. Dit is hartverskeurend om te dink dat jong mense so gedruk voel dat hulle nie enige toekoms vir hulself kan sien nie.”

Leerlinge moet daarvan bewus wees dat hulle welstand die belangrikste aspek is om op te fokus, sê Hosking.

Volgens Hosking is voorbereiding noodsaaklik om eksamenstres te klop aangesien dit help om die druk te verminder. Sy wys egter daarop dat dit net so belangrik is om tyd te maak om te rus en te ontspan ten einde ʼn gesonder perspektief te handhaaf.

Laaste voorbereiding voor die eksamen, is volgens Hosking ook noodsaaklik. “Deur vorige eksamenvraestelle deur te werk kan jy leemtes identifiseer en dit kan help om jou senuwees tot bedaring te bring. Maak seker jy weet in watteer lokaal jy skryf, hoe laat en wat van jou verwag word.”

Eksamentyd is egter nie net vir leerlinge stresvol nie. Volgens Hosking kan dit net so stresvol vir ouers wees om te sien hoe hulle kinders stres oor die eksamen. “Algemene tekens van spanning en angs sluit in: prikkelbaarheid, slaapprobleme, verandering in eetlus en klagtes oor hoofpyn, maagpyn of ander fisieke pyne.”

Hosking meen dit is die moeite werd om ʼn oop gesprek met jou kind te hê oor hanteringsmeganismes wanneer hulle gestres of angstig voel. “Ondersteun jou kind die hele jaar deur met sy of haar studies, en moedig hom of haar aan om gereelde hersiening te doen en op datum te bly met hul werk.”

Dit kan egter tot onnodige angs lei indien ouers te veel klem plaas op die belangrikheid van eksamens, waarsku Hosking. “Herinner jou kind daaraan dat eksamens slegs een deel van hul opvoeding is en dat uitslae nie die enigste ding is wat saak maak nie en dat hul welstand uiters belangrik is.”

Eksamentye is sinoniem met verhoogde stresvlakke, maar Hosking wys daarop dat stresvlakke weer moet daal wanneer die eksamen verby is.

“As stres egter voortduur of onbeheerbaar voel elke keer as daar ʼn toets, eksamen of sperdatum is, word dit aanbeveel dat ‘n professionele persoon, soos ‘n sielkundige, geraadpleeg word om te help met die ontwikkeling van hanteringsmeganismes, tydsbestuurvaardighede en die bou van veerkragtigheid.”

Bronne: Akeso: https://www.akeso.co.za/