Business Education News

Vyf tendense wat in 2019 ʼn uitwerking op die werkplek sal hê

Met Dank: Solidariteit Wereld – Anja van den Berg

Publiseer: 10 Julie 2019

Die werkplek is besig om geweldige veranderinge te ondergaan as gevolg van nuwe tegnologie, verskuiwende sosiale beskouings en nuwe generasies werkers met verskillende behoeftes en idees.

Linda Trim, ʼn direkteur by die werkplekontwerpspesialiste Giant Leap, beklemtoon die hooftendense wat ʼn uitwerking sal hê op hoe mense vanjaar sal werk:

  1. Die toptalentpoel droog op

Baie lande, waaronder die VSA, China, Japan, Italië en Suid-Afrika, sal met talenttekorte te doen kry. Daar word voorspel dat vaardighede in bestuur, regte, verkope en bemarking, operasies sowel as IT in aanvraag sal wees. Hierdie talenttekort sal organisasies uitdaag om die beste mense te vind en te behou. Hulle sal werknemers moet aanstel wat werkplekke sal hê wat aan hul behoeftes voldoen, met inbegrip van buigsaamheid en ontwikkeling.

2. Werk is ʼn handeling, nie ʼn plek nie

Op enige gegewe tydstip doen ongeveer eenderde van alle kenniswerkers in die privaat en openbare sektor afstandswerk. Hierbenewens gebruik slegs ongeveer 40% van werknemers die ruimtes wat aan hulle toegeken is. Beweeglikheid is dus kritiek vir vandag se arbeidsmag. Werknemers werk, benewens in hul kantore, ook in vliegtuie, hotelle, op kliënte se terreine en tuis. Hulle moet gesteun word deur die voorsiening van tegnologie en besigheidsprosesse wat dit vir hulle moontlik maak om effektief te werk waar hulle ook al is.

3. Werknemers gedy in areas wat doelingerig is vir spesifieke aktiwiteite

Omdat vandag se werk so kompleks en onvoorspelbaar van aard is, is ʼn enkele aldoelwerkstasie nie voldoende vir die meeste kenniswerkers nie. Werkplekontwerpers moet ʼn verskeidenheid algemeen toeganklike “aktiwiteitsomgewings” of doelingerigte areas vir spesifieke aktiwiteite voorsien. Aktiwiteitsomgewings moet insluit areas vir impromptu vergaderings, formele vergaderruimtes, projekkamers, individuele werkplekke of pouse-areas wat vergoed vir die tekortkominge van eksklusiewe sellulêre of oopplanomgewings. Een grootte pas nie vir almal nie.

4. Werkgewers bied buigsame opsies om tevredenheid en betrokkenheid aan te help

Buigsame werk ─ waar werknemers toegelaat word om te werk wanneer, hoe en waar hulle wil ─ is oor die algemeen gewild onder werknemers. Volgens die studie Workplace Flexibility: Research to Action sê 30% van werknemers met maklike toegang tot buigsame werkreëlings dat hulle baie tevrede en betrokke by hul werk voel. Vergelyk dit met die 19% tevredenheid en betrokkenheid onder diegene met matige buigsaamheid en die 10% tevredenheid en betrokkenheid onder diegene met min toegang tot buigsaamheid.

5. Gesonde personeel word ʼn sleutelmetriek om sukses te meet

Finansiële verliese as gevolg van afwesigheid en sogenaamde presenteïsme (ʼn verlies aan werkplekproduktiwiteit as gevolg van werknemergesondheidsprobleme of persoonlike kwessies) is vir 4% van bedryfskoste verantwoordelik volgens ʼn 2012-studie getiteld The people side of change. Hoewel die ontwerp en konstruksie van gehaltewerkruimtes geld kos, is dit onbeduidend in vergelyking met werknemers wat nie betrokke is nie, ongesond is en laag presteer.