Business Education

Wat om te doen as jy jou gehoor se aandag verloor tydens ʼn aanbieding?

Met Dank: Anja van den Berg

Gepubliseer: 4 November 2019

Artikel: https://werknet.co.za/wat-om-te-doen-as-jy-jou-gehoor-se-aandag-verloor-tydens-n-aanbieding/

Die meeste aanbieders weet instinktief wanneer hulle gehoor ophou om na hulle te luister. Selfone word diskreet uitgehaal terwyl teksboodskappe onderlangs onder die tafel gestuur word. Sommige begin afsak in hulle stoele of hulle met hulle voete tik. Die meer onbeskaamdes mag selfs begin om mompelend te protesteer.

As ʼn spreker is dit ontmoedigend wanneer jy probeer om kritieke inligting oor te dra en jou gehoor het belangstelling verloor, sê Dorie Clark, dosent en skrywer van Stand Out.

Jou enige kans om gehoor te word, is om ʼn manier te vind – hoe ook al – om weer hulle aandag te trek.

Clark stel vier strategieë voor wat jou sal help om beheer oor die vertrek terug te kry:

Beweeg na ʼn ander gedeelte van die verhoog

Baie aanbieders – ingehok deur ʼn standaard verhoog-opset – gee toe deur hulle aanbieding staande agter ʼn podium te lewer. Lekesprekers veral voel dikwels veiliger en minder blootgestel agter ʼn kateder. Jy sal egter ʼn goue geleentheid verspeel om jou fisiese teenwoordigheid positief te gebruik.

“As jy op een plek geplant is, voor een gedeelte van die gehoor, kan jy die res van die groep weer insluit deur na die teenoorgestelde kant van die verhoog te beweeg,” adviseer Clark. ”Hetsy weens verrassing of beleefdheid, sal jou skielike nabyheid die teenwoordiges dwing om op jou te fokus.”

Versnel – of verstadig – jou pas

Om dieselfde tempo regdeur jou hele aanbieding te gebruik, maak dit eentonig. Vinnige sprekers oordonder hulle gehoor; stadige sprekers draal voort. Die lede van die gehoor – oortuig dat hulle weet wat om te verwag – begin kriewelrig raak. Maar wanneer jy opsetlik van spoed verander, neem hulle kennis. Iets is anders. Hoekoms klink hierdie gedeelte so duidelik? Die uitkoms is dat jy hulle aandag sal herwin.

Praat met ʼn laer stemtoon of aarsel

As jy jou gehoor se aandag op ʼn kritieke punt wil vestig, verlaag jou stemtoon opsetlik na amper ʼn fluistering. Hierdie tegniek sal die gehoor dwing om intensief op jou te fokus. Jy kan self vir ʼn paar tellings in stilte aarsel, “tot so ʼn punt waar hulle brand om die slot te hoor,” sê Clark. “Dit is veral effektief wanneer jy ná ʼn retoriese vraag stop. ʼn Aarseling waarvan die tyd goed bereken is, voeg net genoeg spanning by sodat jou luistereraars nie anders kan nie as om na jou antwoord uit te sien nie.”

Moet liefs nie ʼn vervelige aanbieding kunsmatig opkikker met spotprente of snaakse uitbeeldings wat nie konseptueel relevant is nie. “Dit lyk desperaat,” sê Olivia Mitchell, ʼn afrigter in openbare redenaarskuns. Daarbenewens dui navorsing aan dat om ʼn aanbieding te versuiker wat nie op standaard is nie, die gehoor se vermoë skaad om jou kernboodskap te begryp.