Die ekonomiese waarde van Afrikaans!

Afrikaans is Suid-Afrika se derde grootste taal met meer as sewe miljoen sprekers. Dit sluit tweedetaalsprekers – waarvan daar baie is – uit.

Afgesien van Engels, is daar nie ‘n ander taal in Suid-Afrika wat sterk ekonomiese waarde en hefboomkrag asook só ‘n grootskaalekonomie het nie. Die ander amptelike tale se hoër funksies is nog op ‘n baie onontwikkelde stadium met min gepubliseerde werke.

Afrikaanssprekendes se ekonomiese krag en gesogte vaardighede beteken ook dat daar heelwat van Afrikaanse produkte en dienste gebruik gemaak kan word – en dit alles kring op allerlei maniere uit. Afrikaners is byvoorbeeld ‘n gesogte teikenmark vir banke, reklamemaatskappye, mediapublikasies en versekeringsmaatskappye as kliënte – veral in n taai ekonomiese klimaat soos die een waarin ons tans verkeer. En hulle besef toenemend hulle moet dit in Afrikaans doen en dit skep weer nuwe geleenthede.

Terwyl die politieke klimaat fel teen Afrikaans gedraai het, sien die private sektor en ander instellings steeds groot waarde in die taal.

Wat is dan die ekonomiese en beroepswaarde van Afrikaans? Om dit in rand en sent uit te druk, is moeilik omdat daar nog nie sulke kwantitatiewe navorsing gedoen is nie. Dit is iets wat beslis die moeite werd sal wees om te ondersoek. Daar kan wel uit vele gegewens betroubare afleidings gemaak word, hoewel die ruimte hier nie toelaat dat ’n heeltemal volledige prentjie geskets word nie.

Die rolprentwese is maar net een voorbeeld van ‘n bedryf waar Afrikaans tans ‘n bloeitydperk beleef. Suzette Kotzé-Myburgh skryf in ’n artikel op die webwerf Voertaal.nu dat ofskoon dit in die 1990’s en vroeë 2000’s beroerd met Afrikaanse films gegaan het, die gety begin draai het. Die uitreiking van Afrikaanse flieks het in 1975 op twee per maand gestaan en dit het tot een per jaar gedaal. “Dié laagtepuntfase het 20 jaar voortgeduur!”, skryf sy. Die koms van televisie het uiteraard heelwat hiermee te doen gehad en later politieke faktore ook.

Die keerpunt was 2007 maar die aantal uitreikings het gaandeweg begin klim en in 2015 en 2016 was daar elke jaar 18 vrystellings. Tussen 2010 en 2018 is altesame 96 Afrikaanse rolprente vrygestel.

Dit skep werk en voeg reuse- kulturele en ekonomiese waarde toe.

Die Afrikaanse TV-mark het ook gegroei. Karen Meiring, kanaalhoof by kykNET, het in Oktober 2017 by ‘n simposium oor Afrikaans gesê die media het ‘n besonderse krag in die groei van Afrikaans. “kykNET is die nommer 1-kanaal op TV.”

e.tv het ook einde verlede jaar besluit om ekstra Afrikaanse inhoud by hul eExtra-kanaal te voeg.

Die Afrikaanse druk- en aanlyn media, asook radio, staan ook baie sterk. Maroela Media is nou een van die grootste webwerwe in die land (en lankal die grootste Afrikaanse een) en LitNet is ‘n letterkundige webwerf wat sedert 1999 bestaan. Daarbenewens word ‘n legio tydskrifte oor ‘n legio onderwerpe uitgegee in Afrikaans – van Baba & Kleuter tot Huisgenoot en Finweek. RSG is die SAUK se winsgewendste radiostasie.

“As taal jou werktuig is, soos vir my as ‘n aspirantjoernalis van skooldae af, is dit die heerlikste om in die taal van jou hart en gemoed te komponeer,” sê Ton Vosloo, oudjoernalis en voormalige nie-uitvoerende hoof van Naspers.

James Kemp, hoofredakteur van Klankkoerant op Pretoria FM, sê om in Afrikaans verslag te doen, bied soms ‘n uitdaging weens die feit dat so baie woordvoerders, veral in die regering, Engelssprekend is. “Ons beskou dit egter as ‘n geleentheid om op ‘n unieke wyse die inligting volledig en in Afrikaans aan ons luisteraars oor te dra. Ons moet ook onthou dat dit oorwegend Afrikaanssprekendes, en spesifiek Afrikaners, is wat diskriminasie vandag ervaar – in hulle werkplek, teenoor hulle erfenisstukke en ook teenoor hulle taal. Deur in Afrikaans verslag te doen, wys ons dat hulle en hulle taal ‘n plek in die land het.”

“Terwyl ek my loopbaan onder ‘n vergrootglas plaas, kom ek tot die gewaarwording: Afrikaans het mý as’t ware elke keer oor die meer as 15 jaar in die media gekies. Elke geleentheid om agter die mikrofoon in ‘n ateljee in te skuif, ‘n kamera op te tel en besonderse mense met besonderse verhale te ontmoet, was in Afrikaans. En nou, hier waar ek vir Maroela Media in en met my moedertaal kan werk, besef ek opnuut watter prominente plek die taal en ‘n liefde daarvoor in my lewe ingeneem het. Ek kan net sê ek is oneindig dankbaar daarvoor,” sê Esté Meyer Jansen, ondersoekende joernalis by Maroela Media.

Christo van der Rheede, Agri SA-direkteur en yweraar vir Afrikaans, skryf in ‘n artikel op LitNet dat Afrikaans ‘n vername drywer van ekonomiese aktiwiteit is. “Hierdie ekonomiese aktiwiteite omvat die volgende industrieë: onderwys, radio, drama, kreatiewe skryf, poësie, joernalistiek, televisie, film, die taalpraktyk, advertensiewese, erfenis en toerisme, elektroniese media, tradisionele disse, mode, argitektuur, medisyne, die regswese, sosiale wetenskappe en ontwerp.”

In die Afrikaanse onderwyssektor, wat in menige opsig onder politieke beleg verkeer, is daar uiters interessante verwikkelinge. Solidariteit het ‘n pyplyn van leer, onderrig, opleiding en werk in Afrikaans geskep wat inisiatiewe soos Akademia, ‘n private universiteit en ‘n skolestestelsel insluit.

Die aantal openbare Afrikaanse skole het wel met verloop van jare minder geword, maar staan steeds sterk en bied voortreflike werk en onderrig aan duisende leerkragte en leerlinge.

Finbond het ook onlangs Afrikaanse bankdienste begin aanbied terwyl ander banke dit al vir jare doen. Virseker is ‘n volledig Afrikaanse versekeraar wat weer terugploeg in die taal.

Met Dank: Solidariteit Wereld – Deur Dr. Eugene Brink

Publiseer: 15 Julie 2019

August 14, 2019

0 responses on "Die ekonomiese waarde van Afrikaans!"

Leave a Message

Your email address will not be published.

Aldes Training Academy Copyright © 2019

Setup Menus in Admin Panel

×

Hello!

Click on our representative to chat on WhatsApp or send us an email to training@aldes.co.za

× "Who questions much, shall learn much and retain much" - Francis Bacon
X