Education News

Verstaan die konsep van onderversekering…

Met Dank: Solidariteit Wereld – Deur Sanette Viljoen

Publiseer: 24 July 2019

Artikel: https://regsdienste.solidariteit.co.za/verstaan-die-konsep-van-onderversekering/

Die meeste mense het ’n huisinhoudpolis. Iewers in hulle lewe het hulle hierdie polis uitgeneem en hulle hernu dit ook elke jaar. Die vraag is egter of hulle die versekerde waarde van die polis elke jaar aanpas. Jou huisinhoud word verseker teen die vervangingswaarde daarvan. Hierdie huisinhoud se vervangingswaarde styg elke jaar, soos wat items duurder word.  As ’n polishouer onderverseker is, sal die waarde van die eis verminder word met die proporsionele waarde waarvoor ʼn item verseker is.

Praktiese voorbeeld: Jou tafel is R10 000.00 werd. Dit gaan met ander woorde R10 000.00 kos om dit te vervang (die vervangingswaarde van die item). Jy verseker egter jou tafel vir slegs R5000.00. Dit beteken in effek dat jy self die risiko dra van die ander helfte van die bedrag. Jy is dus jou eie versekeraar vir die helfte van die waarde van daardie tafel. Daarom sal die versekeraar dan net 50% van die waarde van die tafel uitbetaal.

Dit gebeur gereeld dat bates onderverseker word en ’n mens moet daarteen waak. Dit is baie belangrik dat die regte vervangingswaarde gebruik moet word. ʼn Mens kan ook nie van die versekeraar verwag om meer uit te betaal as dit wat die werklike vervangingswaarde van die item is nie.

Dit is ook belangrik om te weet dat artikels wat jy uit die huis neem verkieslik onder jou “alle risiko”-dekking moet val, bv. jou selfoon, skootrekenaar ens. Dit kan nie onder jou huisinhoudversekering val nie.

Dit sal raadsaam wees om met ’n professionele makelaar te gesels om te verseker dat jou bates behoorlik verseker is.